Vrouemaand: Die ánder vroueoptog na die Uniegebou

Die vroueoptog na die Uniegebou in Pretoria het op 4 Augustus 1915 plaasgevind. Nagenoeg 3 000 vroue het aan dié optog deelgeneem.


Suid-Afrikaners vier jaarliks Vrouemaand in Augustus om die prestasies van vroue, en die rol wat hulle in die gemeenskap speel én gespeel het, te gedenk. Hoewel 1956 se vroueoptog na die Uniegebou in Pretoria, in protes teen die paswette, dikwels in herinnering geroep word tydens Nasionale Vrouedag (9 Augustus) en Vrouemaand, was dié optog nie die eerste óf die enigste keer wat vroue na dié setel van die regering in die hoofstad opgeruk het nie. Daarbenewens het dié optog jare vroeër en toevallig ook in Augustus plaasgevind. Hierdie keer het Afrikanervroue hul stem gaan dik maak om protes aan te teken. 

Op 25 Junie 1915, enkele dae ná genl. Christiaan de Wet se vonnisoplegging vir sy aandeel aan die Rebellie van 1914, is ’n beweging deur Afrikanervroue begin met ’n oproep in De Volkstem waarin die “seuns en dogters van Suid-Afrika” gevra is om iets te doen “vir ’n man, ’n held van die volk wat sij innig hartelik liefhet”. Dit is ook hierna in ander koerante geplaas. Dié oproep het gekom van die 85-jarige Hendrina Joubert (weduwee van genl. Piet Joubert) en F.C. Eloff-Kruger, ’n dogter van pres. Paul Kruger.

In Kraal Uitgewers se omvattende geskiedenispublikasie oor die Rebellie van 1914, skryf die historikus Jaap Steyn soos volg oor Joubert se behoefte om De Wet te ondersteun:

De Wet se vonnis het haar [Joubert] aangegryp en sy het, soos sy later vertel het, “enige dae en nagte in gebed en trane” deurgebring. Iemand het haar aandag gevestig op die geskiedenis van die Ou Testamentiese koningin Ester toe dié se volk deur uitwissing bedreig was, en sy het besluit om, soos Ester, iets vir De Wet en die ander Rebelle te doen.

Joubert se beroep het gelei tot massaprotesaksies deur vroue in tientalle dorpe oral in Suid-Afrika. Die hoogtepunt van die aksie was die vroueoptog wat op 4 Augustus 1915 na die Uniegebou in Pretoria plaasgevind het. Sowat 230 dorpe het afgevaardigdes gestuur wat in swart geklee was. Nagenoeg 3 000 vroue het aan die optog deelgeneem, terwyl ’n verdere sowat 2 000 mans en vroue die groep as belangstellendes begelei het. Hiertydens het die vroue hul oproep aan die regering gerig vir die vrylating van De Wet en die ander Rebelliegevangenes. Volgens die historikus dr. Jackie Grobler, het die vroue tydens die optog daarop aanspraak gemaak dat hulle sowat 65 000 vroue landwyd verteenwoordig.

Volgens Steyn was Suid-Afrikaners geheg aan De Wet en “die simpatie vir hom is vergroot deur die dood van sy veelbelowende seun, Danie, tydens die Rebellie, op 8 November 1914, by Doornberg, Allemanskraal, en sy dogter, Bessie, aan kanker in Maart 1915”.

Hoewel die optog nie alleen tot die vrylating van De Wet en die ander aangekeerde en gevonnisde gevangenes gelei het nie, het dit tog die nodige druk op die regering geplaas om die Rebelle te begenadig. Grobler skryf hieroor in ’n artikel wat in 2014 op Maroela Media verskyn het:

Wat die 61-jarige genl. De Wet se lot betref: Sy boete is binne enkele maande deur ’n spontane fondsinsameling vereffen. Ná verskeie pleidooie om begenadiging, asook die gemelde vroueoptog, het die [Louis] Botha-regering in Desember 1915 tot die grootmoedige daad oorgegaan om hom onder sekere voorwaardes vry te laat. Ook die ander rebelleleiers is spoedig vrygelaat. Wat betref die boetes wat aan talle Rebelle opgelê is, en eise om skadevergoeding wat teen hulle ingedien is: dit is betaal deur die Helpmekaarbeweging wat landswyd op spontane wyse geld vir hierdie doel ingesamel het.

Kraal Uitgewers het ’n databasis opgestel van die vroue wat aan die optog van 4 Augustus 1915 deelgeneem het. Dié databasis is hier beskikbaar.

Lees ook meer oor die Rebellie in Die Afrikanerrebellie, 1914-1915. Die boek is hier beskikbaar.


’n Bejaarde Hendrina Joubert.

’n Vroueoptog in Reddersburg vir die vrylating van aangehoude Rebelle.