Vyf feite oor die Retief-moorde wat jy NIE geweet het nie

Die vooraanstaande historikus dr. Jackie Grobler van die Universiteit van Pretoria maak in sy artikel “The Retief Massacre of 6 February 1838 revisited” in die Historia van 2 November 2011 verskeie opspraakwekkende feite oor die moord op Piet Retief en sy makkers bekend.

Die volgende feite oor die Retief-moorde en die omstandighede daartydens het in die oorlewering van dié keerpunt in die geskiedenis byna in die vergetelheid geraak:

  1. Minstens drie nie-Zulu getuies het die moorde aanskou

Daar is geglo dat al die manskappe in Retief se geselskap vermoor is en daar dus geen ander ooggetuies van die gebeure was buiten Dingane en sy Zulu’s nie. Dit is egter nie waar nie. Francis Owen, wat as Britse sendeling onder die Zulu’s gewerk het, het nie net die gebeure van ʼn afstand gesien afspeel nie, hy het die moorde later dieselfde dag in detail in sy dagboek opgeteken. Die 12-jarige William Wood wat by die Owens gewoon het en soms as tolk vir Dingane opgetree het, het dit ook aanskou en sy vertolking van gebeure is sowat twee jaar later in Kaapstad gepubliseer. Jane Williams (later bekend as Jane Bird), ʼn Walliese bediende wat vir die Owen-gesin gewerk het, was ook ʼn ooggetuie van die moorde. Haar weergawe van die bloedige dag is in Desember 1877 gepubliseer. (Verskeie ander Zulu-bronne bestaan ook oor die moorde, insluitende die weergawe van die Fransman Adulphe Delegorgue wat meer as ʼn jaar na die moorde Zulu-ooggetuies ondervra het en ʼn verslag daaruit opgestel het.)

  1. Dingane was nooit van plan om die grond vir die Voortrekkers te gee nie

Die skoonheid van Natal het die Voortrekkers aangetrek, maar die grond het aan die Zulu’s behoort. In ʼn poging om ’n stuk grond vir die Trekkers te bekom, het Retief met Dingane gaan onderhandel, vandaar die traktaat wat opgestel is. Kenners meen egter dat Dingane nooit van plan was om ooit die grond vir die Voortrekkers te gee nie (ten spyte van die ondertekening van die traktaat wat dit bevestig). Die Zulu-historikus J.S.M Maphalala reken dat Dingane nie eens by magte was om stamgrond weg te gee nie aangesien hy bloot die “bewaarder” van die grond was, wat ʼn geskenk van God is. (Daar het wel Britte in die Zulu-gebied gewoon, maar die grond is nooit vir hierdie inwoners gegee nie. Hulle het bloot verblyfreg geniet en was nie eienaars van die grond nie.)

  1. Die oorspronklike weergawe van die traktaat bestaan nie meer nie

Hoewel die bestaan van die Retief-Dingane-traktaat nie betwyfel word nie, en daar betroubare bewyse is dat Dingane die dokument met die trek van ʼn kruis “onderteken” het, bestaan die oorspronklike dokument nie meer nie. Verskeie historiese bronne reken dat die traktaat op 4 Februarie opgestel is, maar eers op 6 Februarie onderteken is – enkele ure voor die moorde.

  1. ʼn 12-jarige het die Trekkers oor die beplande moorde gewaarsku

Die 12-jarige Wood wat by die Owen-gesin gewoon het, het in sy weergawe van gebeure aangevoer dat hy ʼn groepie van Retief se manne die oggend van 6 Februarie oor die beplande moorde gewaarsku het. Die Trekkers het hulle blykbaar nie aan die jong seun gesteur nie. Toe die sendeling Owen die Trekkers oor hulle gevoel oor Dingane uitgevra het, het twee van hulle gesê dat Dingane ʼn goeie man is – te oordeel aan die groot stuk grond wat hy aan hulle toegestaan het. (Owen is self ook die oggend voor die moorde deur ʼn boodskapper van Dingane oor die beplande moorde ingelig.)

  1. Een man het ontsnap (byna)!

Andries Pretorius het tien maande na die moorde ʼn Zulu-kryger oor die moorde ondervra. Dié het beweer dat een van die Voortrekkers in Retief se geselskap ontsnap het toe die aanval plaasgevind het. Hy het volgens oorlewering daarin geslaag om sowat 2 km ver te vlug voordat hy deur die Zulu’s ingehaal is. Hy het homself met klippe verdedig, maar is oorrompel.

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!