Vyf moet-sien historiese plekke in Suid-Afrika

In elke land is daar die moet-sien plekke wat toeriste op hulle lysies sit vir wanneer hulle ’n land besoek. In Frankryk is dit sekerlik die Eiffel-toring en die Louvre-kunsmuseum en in Engeland dalk Big Ben en Buckingham-paleis. So moet jy eenvoudig ook minstens een Holocaust-museum in Europa besoek en een piramide in Egipte om ’n ware gevoel van ʼn land of streek se geskiedenis te kry. En in Suid-Afrika? Wel, as jy werklik die historiese hart van Suid-Afrika wil vóél klop en wil weet waarom jou huis werklik hier is, is hier ’n paar plekke waar jy minstens een keer by moet afdraai.

1. Slagvelde van die Vryheidsoorloë (soos Majuba en Magersfontein)

Hoewel daar in meeste gevalle nie veel oor is om by die slagvelde van die Vryheidsoorloë te sien nie, vertel die oop ruimtes telkens ’n meer treffende storie as wat museums en boeke ooit sal kan. Deur net ʼn bietjie oor die slagting op te lees en jouself vooraf te vergewis van die omstandighede van die slagveld, ligging waar watter groepe hulself bevind het, kry ʼn bykans barre terrein weer lewe.

2. Myndorpe (soos Cullinan en Kimberley)

Die rol wat mynbou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het, kan eenvoudig nie ontken word nie. Om ʼn prentjie te vorm van diamantstormlope en goudkoors wat die wêreld as’t ware beetgepak het in die middel-1800’s, sal ʼn besoek aan ou myndorpe soos Pelgrimsrus, Cullinan of Kimberley ʼn unieke belewenis wees.

3. Voortrekker-monumente (soos die Voortrekkermonument in Pretoria en Bloedrivier)

Die waagmoed en dappere optrede van die Voortrekkers word nêrens so prominent uitgebeeld as by die imposante Voortrekkermonument in die suidweste van Pretoria nie. Hoewel dit een van die gewildste historiese toeriste-aantreklikhede in die land is, is dit beslis nie die enigste plek waar die verhale van die Trekkers vertel word nie. Nog ʼn bekende terrein is natuurlik die Bloedrivier-terrein in KwaZulu-Natal, maar beloon jouself om ook ʼn draai te maak by die kleiner monumente met groot stories. Dink maar aan die Vegkop-terrein buite Heilbron en die Moorddrif-monument buite Mokopane (Potgietersrus).

4. Konsentrasiekamp-terreine (soos Irene, Bloemfontein, Bethulie en ander)

Waarskynlik die treffendste element van konsentrasiekampterreine (waarvan tientalle regoor Suid-Afrika te vinde is), is die naamlyste wat die sterftes aandui. Doen gerus navorsing om te bepaal waar jou voorouers in dié kampe van die Anglo-Boereoorlog aangehou is voordat jy kies watter een om te besoek. Die wete dat een van jou voorouers op dieselfde plek was, sal die besoek meer spesiaal en persoonlik maak.

5. Argitektoniese wonders (soos die historiese kerke en Kerkplein)

Tientalle Suid-Afrikaanse dorpies het rondom kerke ontstaan en uiteindelik die bymekaarkomplek van mense uit die uithoeke van die distrik geword. Hoewel nie alle kerkgeboutjies die tydtoets deurstaan het nie, vertel dié wat behoue gebly het ’n waardevolle verhaal in ons argitektoniese geskiedenis. Prominente historiese kerke sluit onder meer in die Groote Kerk in Kaapstad (die oudste NG-gemeente in die land) wat in 1841 opgerig is, die kerk van die NG-gemeente Graaff-Reinet wat in die laat-1880’s gebou is en die sogenaamde Kruger-kerk in Pretoria wat in 1879 in gebruik geneem is. Dan is daar natuurlik ook Kerkplein (sonder enige kerk). Die Ou Raadsaal en Paleis van Justisie (wat in onderskeidelik 1889 en 1897 gebou is) is maar net ’n paar van die prominente historiese geboue op dié plein in die hartjie van Pretoria.

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!