Wat kom ná die mislukkings van die staat?

Bedrog, korrupsie, misdaad … Suid-Afrika se oorvloedige probleme klink soos iets uit  vergesogte misdaadfiksie. Intussen staan die Afrikaner midde-in dié storm en is uiteraard nie onaangeraak deur die uitdagings van die dag nie; inteendeel, die Afrikaner staan voor ’n ernstige bestaanskrisis.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, se nuwe boek, Die pad na selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur, is op 9 Oktober in Pretoria bekendgestel. Dié boek ondersoek op ’n brutaal eerlike wyse die redes vir die Afrikaner se bestaanskrisis en bied voorstelle vir oplossings om steeds vry, veilig en voorspoedig in hierdie land te kan bly woon. Buys verskaf ook ’n padkaart na die enigste beskikbare én werkbare oplossing – groter selfbestuur – met planne om uitvoering daaraan te gee.

Volgens die demograaf en oudrektor van die Universiteit van Pretoria, prof. Flip Smit, bied Die pad na selfbestuur ’n toekomsvisie en ’n pad van hoop. “Dit is ryk aan internasionale en nasionale voorbeelde van selfbestuur wat die skrywer, soos altyd, op ewewigtige, beskeie maar kristalhelder wyse oordra. Dié boek kom in ’n tyd waarin wit mense (maar by name Afrikaners) onder geweldige druk verkeer. Dit verdien derhalwe nie net ’n wye leserskring nie, maar doelgerigte aansporing.”

Die pad na selfbestuur is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen slegs R300. Klik hier om die boek te bestel of vir meer inligting.