Weeskinders van die ABO

’n Kinderhuis vir weeskinders van die Anglo-Boereoorlog op Middelburg. (Foto afkomstig uit die poskaartversameling van die Genealogiese Vereniging van Suid-Afrika)

’n Kinderhuis vir weeskinders van die Anglo-Boereoorlog op Middelburg. (Foto afkomstig uit die poskaartversameling van die Genealogiese Vereniging van Suid-Afrika)

deur Ilze Nieuwoudt

Die Anglo-Boereoorlog se nadraai het vir generasies ’n bittere letsel op die Afrikaner gelaat. Families is uitmekaar geskeur, plase is vernietig en talle moes in die stede ’n nuwe heenkome gaan vind.

Piet Strauss skryf in sy boek Gereformeerdes onder die Suiderkruis dat nagenoeg 30 000, oftewel sowat 80%, van Boere se plase gedurende die oorlog as deel van die verskroeideaardebeleid in die voormalige Boererepublieke verwoes is. Nagenoeg 34 000 vroue en kinders het boonop in en op pad na die Britse konsentrasiekampe gesterf.

Uit die as van vernietiging het mans wat as bannelinge na verskeie buitelandse kampe gestuur is, teruggekeer huis toe, terwyl die oorblywende vroue en kinders ook stuk-stuk die konsentrasiekampe verlaat het. Meer as 20 000 Afrikanerkinders was egter nie so gelukkig nie, want vir hulle was daar nie die vooruitsig van hereniging met hulle ouers nie. Vir dié kinders was die toekoms bleek, want die stryd tussen Boer en Brit het hulle wees gelaat. Hoewel bronne oor die presiese aantal weeskinders van dié oorlog verskil (sommige meen dat daar sowat 12 000 wesies was), het ’n koerant, De Vereeniging, in September 1903 ook dié syfer op 20 000 gereken.

Die Boereleiers het die dringende nood van veral die kinders raakgesien. Generaals Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet het kort ná die oorlog na Europa gereis om daar geld in te samel vir die nou verarmde Afrikaner. Hulle kon slegs sowat £125 000 in Europa insamel, terwyl Kapenaars wat die Boere goedgesind was ’n verdere £60 000 bygedra het. Hierdie geld is saam met die Britse regering se bydrae in die sogenaamde Generale Boeren Hulpfonds gestort en ’n groot deel daarvan is gebruik om weesinrigtings in Transvaal en die Vrystaat op die been te bring.

Volgens dr. Elizabeth van Heyningen, ’n historikus van die Universiteit van Kaapstad, is weeskinders meestal deur vriende of familie ingeneem. Families in die Kaapkolonie het ook aangebied om van die oorlogsweeskinders in te neem. Tog het duisende ander kinders geen heenkome gehad nie.

Verskeie persone en instellings het na die oorlog hulp verleen met die versorging van hierdie kinders. Sommige leraars en gemeentes het kort ná die oorlog weeshuise opgerig. Volgens die taalhistorikus prof. J.C. Steyn, het ds. A.P. Kriel van Langlaagte reeds in September 1902 dié gemeente se kinderhuis geopen. Die huis het oorspronklik op ’n gehuurde erf met tydelike geboue ’n tuiste aan sewe weeskinders gebied. Verskeie ander kinderhuise het in dieselfde tyd dwarsoor die land tot stand gekom, onder meer op Winburg, Brandfort, Bethulie, Ladybrand en Bethlehem. In Boksburg en Middelburg het ds. J.M. Louw en ds. A.P. Burger ook twee kinderhuise nog voor die einde van 1902 geopen. Hierdie twee kinderhuise het in 1904 saamgesmelt en is uiteindelik in 1908 met Kriel se kinderhuis verenig. Kriel het reeds vóór die oorlog aktief bystand aan behoeftige vroue en kinders verleen en is toe al deur Maria Kloppers van die Boland bygestaan. Sy het ook ná die oorlog in die kinderhuis gewerk.

Steyn skryf soos volg oor die snelle toename van kinders wat na die kinderhuise gebring is: “Voor die einde van die jaar [1902] was daar 92 [kinders] en in September 1903 [reeds] 245. Meer huise en erwe is aangekoop en in 1913 selfs twee plase. Die kinderhuis het geen vaste inkomste gehad nie, maar het steeds die nodige middele gekry . . . soms het daar 3 pennies van ’n weduwee opgedaag, maar ook bedrae van £1 000 tot £3 000.” Ander skenkings soos klere, vrugte, groente, meel en slagvee was ook algemeen.

Oor die omstandighede in ’n kinderhuis van die tyd, het ’n skrywer van die koerant The Transvaal Critic in 1906 geskryf dat die tehuis skoon en baie higiënies was. Steyn haal hom soos volg aan oor die aktiwiteite in dié huise: “Die kinders bak brood, was klere, wit die mure, skrop die vloere. Hulle maak hulle eie seep, hulle beplant die tuine met groente en vrugte. Hulle maak skoene, beddekens, klerekaste en sitbanke. Op honderd maniere word die kinders nuttige dinge geleer nadat hulle elke dag vier uur in die skool deurgebring het.”

Die oorlog het ongekende verwoesting gesaai, maar die waardevolle werk wat deur talle kinderhuise dwarsoor die land verrig is, het volgens historici ongekende waarde toegevoeg. Die historikus G.D. Scholtz was van mening dat die kinderhuise duisende Afrikaanse kinders “wat na siel en liggaam verlore kon geraak het” nie net vir die lewe gereedgemaak het nie, maar ook gered het.