Woord van die week – 19 Julie 2017

soes, het gesoes; byv. en byw. soesende, soesend. (verouderd) (Ndl.)

1. Dut of sluimer: Op die stoep sit ’n soesende oubaas op ’n stoel.

soeserig b.nw., soeserige. (Ndl. soezerig)

1. Lomerig of half bedwelm deur die slaap: Hoeveel nagte het ek daar in my bed my opstand lê en lug. Hy, dikwels soeserig van die vaak, het my nogtans geduldig aangehoor (W.A. de Klerk in Huisgenoot, 16 Januarie 1959, p. 20).

2. Wat jou wil laat sluimer of baie rustig maak: ’n Renosterbul loop sy gebaande pad deur die bosse – ’n ou nukkebol, vasgegroef in die daelikse roetine van renosterwees in die soeserige son. (H.J. Vermaas in Swartwitpens, 1970, p. 40).