Woord van die week – 20 Junie 2017

sliert s.nw., slierte; sliertjie

1. (t.o.v. hare) Langerige stringetjie: ’n Sliert gitswart hare het in haar een mondhoek vasgesit (Beeld, 18 Augustus 2009, 1). Haar ligrooi hare hang in slierte oor haar voorhoof en wange (Jochem van Bruggen: Sluis,1957, 9).

2. Langerige strook: ’n Sliert lig, slym. Slierte goiingsak, gras, reën, rook, sleepmis, ysreën, warm kaas, wondergom. Mis wat in slierte oor die baai hang.

3. (ongewoon) Ry of tou: Die mense loop in lang slierte gebukkend die rivierwal af.

4. Uitdrukking: ’n Sliertjie weghê: Dronk of aangeklam wees.